News/Nuus

Dutoit Groente – Jong Patat Variëteite

Dutoit Groente beproef tans 16 patatvariëteite wat ’n verskeidenheid reënboogkleure insluit. Die proewe word tans op Skaapkraal gedoen onder leiding van Frikkie Bothma en Johann Raal, wat die oesevaluering hanteer. Uit die 16 proewe sal die aantal variëteite wat kommersieel aangeplant word, berus by die mark se behoefte asook die produksiepotensiaal om die proses ekonomies vatbaar te maak. Die verskillende kleure is ook gekoppel aan die smaak en voorkeure van die koper wat die telers uitdaag om die produk meer opwindend te maak.

Die kleur- en smaakaanvaarbaarheid van oranje variëteite in die plaaslike mark is beperk, maar een van Dutoit se doelwitte is om die blootstelling aan ’n groter verskeidenheid variëteite te vergroot sodat die jong variëteite dieselfde aanvaarbaarheid sal geniet as die roomkleurige vlees variëteite. Dutoit fokus nie net op uitvoere nie, maar ook op plaaslike supermarkte.

Patats het ’n hoëveselinhoud en is op sy lekkerste wanneer dit net so in die skil gekook word, sonder toevoegings. Dutoit glo dat hierdie gewas binnekort baie aandag gaan trek met die ontwikkeling van variëteite met meer aanloklike kleure en besonderse smaak.