News/Nuus

Hoof Uitvoerende Beampte: Dutoit Agri

Willem Coetzee, voormalige Besturende Direkteur: Kromco, is deur die Direksie van die Dutoit Groep aangewys as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte van Dutoit Agri. Willem is sedert November vanjaar werksaam by Dutoit Agri.

 

Pieter du Toit, Besturende Direkteur: Dutoit Groep, beskryf Willem as ‘n sterk leier met die vermoë om die Dutoit Agri-strategie met volhoubaarheid te implementeer. “Hierdie ontwikkeling maak dit vir Dutoit Agri moontlik om die voortgesette sukses van die maatskappy te verseker”, verduidelik Pieter du Toit.

Willem het grootgeword op ‘n plaas in die Piketberg-distrik, waar daar met aartappels, koring en later tafeldruiwe geboer is. “Dit is basies hier waar my liefde en passie vir landbou ontwikkel het”, verduidelik Willem. Na afloop van sy hoërskooljare by Piketberg Hoërskool, het hy sy studies by Stellenbosch Universiteit, met behulp van ‘n Sasol beurs, voortgesit. Hy het ‘n groot passie vir sport en het in hierdie tyd vir Maties Rugby uitgedraf waartydens hy sy vrou, Elsmarie, ontmoet het.

 

Na voltooiing van sy studies, het Willem Nieu Seeland toe verhuis met ‘n fokus op sport evangelisasie. In 1997 het hy sy loopbaan by Sasol, Secunda, afgeskop as meganiese ingenieur, waar hy vir 7 jaar werksaam was. Daarna het hy teruggekeer na die landbou-industrie. Kromco, Grabouw, was vir 14 jaar Willem se inleiding tot appels, pere en pruime, waarna hy die laaste 5 jaar die totale besigheid gelei het.

 

Elsmarie is ‘n gekwalifiseerde biokinetikus. Hul 3 kinders, Karli (15), Johann (12) en Willan (6) sluit volgende jaar by Hoërskool Charlie Hofmeyr en Laerskool Gericke aan.

 

Willem sal vanaf Januarie 2018 die leisels volkome by Gys du Toit (Sr) oorneem. Hy vertel dat hy opgewonde is oor die Dutoit-besigheid met al sy moontlikhede en potensiaal. “Ek sien daarna uit om in hierdie tyd die Dutoit-span beter te leer ken en saam die pad vorentoe te stap, deur die goeie en ook die minder goeie tye,” moedig Willem aan.

 

Onder die Direksie se leiding en met Willem se ondersteuning, sien ons uit na die volgende fase van volhoubare groei.