News/Nuus

‘Royal Jan’ vernoem na Jan Eksteen

Wyle Jan Eksteen, Landgoedbestuurder van Nooitgedacht voor Arno Marais, het ’n groot invloed op die ontwikkeling van kersieverbouing gehad. Sy sisteme word gesien as die grondslag waarop ons vandag nog voortbou. Na afloop van jare se toewyding as projekbestuurder op kersies, het Jan en sy vrou Elna, op Onrus afgetree. Jan is op 26 Februarie 2017 oorlede. 

Dutoit het in die verlede verskeie Zaiger kersies beproef, waarna hulle onlangs besluit het om met ‘n spesifieke kersiereeks voort te bou. Op hierdie stadium was daar nog geen naam aan die kersie toegeken nie. Dutoit het dadelik met Zaiger SA onderhandel om ’n versoek aan Zaiger Genetics te rig om die kersie na wyle Jan Eksteen te vernoem.

Zaiger Genetics LLC in Californië het Dutoit se versoek toegestaan om die betrokke kersie ‘Royal Jan’ te noem. Hulle kersie reeks was in die verlede hoofsaaklik vernoem na familielede, met die uitsondering van Royal Jim, vernoem na wyle Dr Jim Button, wat ‘n besonderse verhouding met die Zaiger familie gehad het. Dutoit is baie dankbaar dat die versoek goedgekeur is, aangesien die Zaiger-familie nooit vir Jan ontmoet het nie.

Wyle Jan Eksteen was die pionier van ons kersieprojek en dit is vir Dutoit ‘n groot voorreg om hom op hierdie manier te vereer. Sy afsterwe was en bly vir ons ‘n groot verlies. Elna en haar kinders, asook kleinkinders, is baie trots op die Royal Jan naam.

Die pad vorentoe: Dutoit is besig met semi-kommersiële proewe, met die oog op moontlike kommersialisering. Dutoit se uitkyk op die kersiebedryf: Verbou aantreklike, soet, groot kersies met baie smaak.


Tanith Freeman
Manager: Product Development
tanith@dutoit.com