News/Nuus

Supercool Waardesprojek

Die oorhoofse tema van die Supercool Waardesprojek vir 2018 is: Diensbaar!  Hiermee wil ons graag elke Dutoit-afdeling en -gemeenskap uitnooi om die tema deel van hulle leefstyl te maak.

Francis van Assisi het op ‘n dag die volgende baie bekende gebed gebid:

Here maak my ʼn instrument van u vrede
Waar daar haat is, laat my liefde saai
Waar daar twyfel is, geloof
Waar moedeloosheid is, hoop
Waar donkerte is, lig
Waar droefheid is, vreugde
O Goddelike meester gee dat ek eerder sal troos as om troos te soek
Eerder sal verstaan, as begrip te soek
Eerder sal liefhê as om liefde te soek
Want deur te gee, ontvang ons
Deur te vergewe word ons vergewe
En deur te sterwe word ons gebore tot die ewige lewe!

Dit is eintlik ‘n gebed vir diensbaarheid.  Ons leef in ‘n wêreld waar haat, ongeloof, wanhoop, moedeloosheid, donkerte, droefheid in soveel mense se lewens teenwoordig is.  Daar is baie hartseer en liefdeloosheid in hierdie wêreld.  Die diensbare persoon is iemand wat hierdie dinge kan raaksien en dan op sy of haar manier ‘n verskil maak.

Ons kan diensbaar wees met ons hande, deur praktiese take uit te voer vir mense wat dit nie meer self kan doen nie.  Ons kan diensbaar wees met  ons harte, deur by mense te gaan sit en na hulle nood en behoeftes te luister.  Ons kan diensbaar wees met ons kennis (kop), deur iemand te gaan help met ‘n taak waarmee hy sukkel.  Elkeen van ons kan dit op ons eie unieke manier doen en niemand van ons het regtig ‘n verskoning om nie diensbaar te wees nie.

Hier is ‘n paar diensbaarheid-waarhede:

  • Diensbaarheid is terapie.  Wanneer jy deur ’n hartseer tyd in jou lewe gaan, sal diensbaarheid help om die wonde te genees, omdat jy dan die fokus van jouself afhaal en op ander mense se nood fokus.
  • Diensbaarheid lei tot self-aktualisering.  Die Woord sê dit is saliger om te gee as om te ontvang.  Ons weet almal dat ons dikwels eers ons roeping en doel ontdek en as mense groei deur ons diensbaarheid.
  • Diensbaarheid is ‘n opdrag. Jesus se hele lewe was gewy aan diensbaarheid en Hy het dit aan ons kom demonstreer.  As sy dissipels, moet ons hierdie voorbeeld volg.

 

Iemand armer as ek

Hy was verslons, geklee in jeans wat op die knieë geskeur en onder om die pype uitgerafel was – maar nie op die modieuse manier van ryk tieners nie.  Dit was regtig ‘n verslete broek. So ook die tekkies en die deurgeskifte hemp.

Hy het altyd ‘n paar verlepte groentetjies kom verkoop wat hy wie-weet-waar teen ‘n paar sente te koop gekry het.  Ons het maar net gekoop om ons gewetes te stil omdat ons nie méér doen om te help nie.  Baie dae het hy op die sypaadjie voor in die straat gesit en op sy mondfluitjie gospel-liedjies gespeel, met so ‘n salige uitdrukking op sy gesig dat ‘n mens kon glo hy bedoel elke noot.

Ons het hom jammer gekry en ‘n vinnige insamelinkie onder familie en vriende gedoen.  Die volgende aand het ons ‘n swart sak vol skoene en ou klere gereed gehad toe hy weer met sy flenterbroek en slap groentetjies kom aanklop.

Ons het vreugde verwag, maar nie die sinnetjie wat daarmee saamgegaan het nie.  “Jislaaik, maar ek is verskriklik bly.  Daar woon soveel mense in die plakkerskamp rondom my wat dit bitter nodig het.”

Uit: Stories vir die lewe, ‘n Boek oor lewenswaardes.

 

Lindeshof

  

Lindeshof het ‘n ywerige spannetjie en het gedurende Maart  moeite gedoen met die Wêreld TB-dag.  Hulle het bestaande plakkate gebruik en sommer oral op lamppale opgeplak, en het met ongeveer 300 mense gepraat oor die simptome, tekens, oorsake en behandeling van TB.  Hulle het ook die bewaarskool betrek en die kindertjies betrek by bewusmaking.  Daar is ook ‘n paar sputums gedoen vir toetsing.

 

  

Gedurende April was Lindeshof se groter projek "Healthy Granny’s”, waartydens bejaardes op die plaas genooi is vir ‘n oggendsamesyn. Daar was 20 persone teenwoordig. Verskeie gassprekers is genooi, waaronder persone van Kuilsrivier: Sonja Lewis - tandarts, Laurika Lewis - Fisioterapeut, Dollie Kleynhans van die Bejaardesentrum Malmesbury en Kuilsrivier en Tim Kleynhans - Dokter. Almal het oor hulle toepaslike gesondheidsaspekte, bv mondgesondheid, oefeninge, ensovoorts gepraat.  Die Jeug het ‘n sangitem gelewer en geskenkies is vir die bejaardes uitgedeel.

 

Dutoit moedig elke Landgoed aan om hul Supercool Waardesprojek foto's aan Mariette te stuur.

Mariette le Roux
Personeelassistent: Dutoit Agri
mariette@dutoit.com