News/Nuus

Mandela-dag

Daar is ‘n baie belangrike dag wat elke Suid-Afrikaner fyn moet beplan in die maand van Julie: Mandela-dag.

Vanjaar is dit 100 jaar sedert oud-president Nelson Mandela se geboorte. Suid-Afrika tel al sedert 9 April 2018 die eenhonderd dae af tot Madiba se spesiale dag. Mandela-dag word elke jaar gevier op Nelson Mandela se geboortedag – 18 Julie. Die dag word gevier deur vir slegs 67 minute iets goedhartig by te dra tot jou gemeenskap en sodoende verandering bring tot ’n behoeftige individu of gemeenskap se lewens.

Hoekom 67 minute? Nelson Mandela het 67 jaar geveg vir sosiale geregtigheid, waarvan hy 27 jaar op Robbeneiland aangehou is vir sy verbintenis met terroristebedrywighede in ’n land waar ’n apartheids-regering die oorhand gehad het. Hy is in 1990 vrygelaat en in 1994 word hy die land se staatspresident. Hy lei die land tot in ’n vrye demokrasie en word die mees geliefste president van Suid-Afrika.

Om by te dra by die optwikkeling en groei van ons gemeenskappe het verskeie Dutoit Agri gesondheidswerkers op die landgoedere hul 67 minute vir Mandela-dag aan projekte bestee wat hulle na aan die hart lê.

  

  

Op Vastrap is ‘n bederfdag vir bejaardes gereël.  Hulle was genooi vir ‘n eetdingetjie, ‘n geestelike boodskap en hulle hande is gewas en naels versorg.

Lindeshof se gesondheidswerkers en bewaarskoolpersoneel het ‘n operasie skoonmaak gehou en die kinders opgevoed oor herwinning en die skeiding van vullis. Die kinders is agterna bederf met ‘n pakkie chips en lekkers.

Sneeuwkop se gesondheidswerker het met hulp wat Bestuur beskikbaar gestel het, die paar bejaardes wat daar woon, se tuine skoongemaak.

Vreeland se jeug was op ‘n jeuguitstappie na die Dienssentrum in Lyellstraat op 16 Junie, soos gereël deur die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum.  Op 19 Junie het Coshla se Bewaarskool die APD ingekry om ‘n poppekas aan te bied vir die kinders. Daar is gefokus op die gevare van drank en dwelms.  Op 15 Junie, die Vrydag voor Vadersdag, is die Vaders bederf met ‘n paar eetgoedjies en ‘n spesiale boodskap tydens die godsdiensopening. 

Tandfontein se gesondheidswerker het ‘n bejaarde met chroniese siektes besoek en omvattend aandag aan die persoon gegee.

Roshelle de Klerk het ‘n paar projekte met die Appeltjieland nasorgkinders aangepak:  Die een was ‘n waardegerigte projek, waar hulle bottels versier het met waardes en hulle name daarop aangebring, en in die ander projek het hulle besems gemaak van plastiekbottels en dit gebruik om die omgewing te vee. Hulle verseker my die besems werk!

Baie dankie vir elkeen se bydrae, ondersteuning en betrokkenheid. Nelson Mandela se lewenswerk is beslis motivering vir elke landsburger om by te dra tot die land se welstand.

Mariette le Roux
Personnel Assistant - Dutoit Agri (Pty) Ltd.
Tel: +27 (0)23 312 3136
mariette@dutoit.com