News/Nuus

Wes-Kaap Dienstoekennings

Dutoit het onlangs die groot voorreg gehad om erkenning te gee aan mense wat besonderse loopbaan mylpale by Dutoit Agri asook Dutoit Groep behaal het. 

Kenners beweer dat ons almal ongeveer 50% van ons leeftyd gedurende die ouderdomme van 20 tot 60 jaar (slaaptyd uitgesluit), by die werk spandeer. Statistieke wys verder daarop dat die gemiddelde werknemer (wêreldwyd) tans slegs 4,7 jaar by ‘n spesifieke werknemer spandeer voordat hy of sy aanbeweeg na ‘n volgende werkgewer.

Bogenoemde syfers maak die prestasie van die Dutoit, Crispy en Misgund Kleinboere se dienstoekennings nog meer besonders. In totaal, is daar erkenning aan 208 mense gegee. Die volgende mylpale is gevier: 10 jaar toekennings: 136 | 20 jaar toekennings: 51 | 30 jaar toekennings: 17 | 40 jaar toekennings: 6

Ons het ook afskeid geneem 34 mense wat aan die einde van hul loopbane gekom het. Ons wens hulle wat aftree ‘n geseënde rustyd toe en bedank hulle vir hul onbaatsugtige diens aan Dutoit.

Lennox Plaatjies het by die Produksie, Dutoit Groente en Dutoit Vrugte geleenthede opgetree as gasspreker. Sy boodskap van hoop was vir elkeen ‘n inspirasie. Die gesindheid waarmee ons ons alledaagse lewe en werk aanpak, het ’n groot impak in ons werkplek en lewens.

Dankie vir die positiewe verskil wat elkeen van julle by Dutoit maak. Ons is voorwaar trots op elkeen wat Dutoit vir so lank al as sy werkgewer van keuse kies en daarmee ook sommer die statistieke uitdaag. Ons is terselfdertyd baie dankbaar teenoor elk van bogenoemde prestasies en wens julle elkeen ook baie geluk. 

Willem Coetzee