News/Nuus

Renosterveld blom ook in die Swartland

Renosterveld blom ook in die Swartland

In die Landbouweekblad van 5 Oktober 2018 het daar ‘n artikel oor die Renosterveld in die Swartland verskyn.  Hierdie berig is geskryf deur mnr Stephen Cousins wat navorsing oor die Swartland Renosterveld gedoen het.  Vir die doel van sy navorsing, wat hy vir sy doktorale studies gedoen het, het hy ook op Swartdam (Poresleinberg) navorsing gedoen en in die gastehuis vertoef.  Mnr Cousins is egter in Junie 2018 in ‘n motorongeluk oorlede voordat die artikel gepubliseer en sy navorsing voltooi kon word.

Hier volg ‘n kort uittreksel uit sy artikel:

  • Die naam Swartland kom van die renosterveld wat voorheen oorvloedig in die Swartland voorgekom het.  In die somer raak die tipiese plante in die renosterveld, soos renosterbos, wilde roosmaryn en struike uit die madeliefiefamilie amper swart.
  • Renosterveld is ‘n immergroen struikagtige grasveld met buitengewone bewaringswaarde. Dit kom veral voor op kleigrond wat betreklik vrugbaar is en het graniet of skalie as moedergesteente.
  • Renosterveld is besonder ryk aan bolplante en struike, wat dikwels deur die renosterbos oorheers word. Verskilende grassoorte is ook prominent. Renosterveld is dus nie renosterbos nie, maar ‘n plantgroeitipe, ‘n soort Mediterreense struikveld.
  • As gevolg van landbou-uitbreidings, is die renosterveld tans ernstig bedreig en is daar minder as 5% van die oorsponklike veld oor.  Die vernaamste stukkies is in die heuwels van Darling, die laer hange van Paardeberg en ‘n paar stukkies by Malmesbury, Moorreesburg en Koringberg.
  • Daar is 29 soorte renosterveld, waarvan 4 in die Swartland voorkom, naamlik Swartland-skalie, graniet-, silkreet en alluvium-renosterveld.  Drie van dié soorte word as ernstig bedreig beskou en die vierde is kwesbaar.
  • Darling se renosterveld is besonder ryk aan verskeidenheid en ‘n opname in 1994 het 420 verskillende soorte plante opgelewer. Endemiese plante (wat NET daar voorkom), sluit in die blou-en-rooi kelkiewyn (kwesbaar), die geelbobbejaantjie (ernstig bedreig) en die geel kelkiewyn (ernstig bedreig).  Die meeste renosterveld in Darling is op private plase, maar stukke renosterveld word beskerm deur die Darling renosterveldreservaat, die Groenkloofreservaart, die Waylands veldblomreservaat en die Tienie Versveldreservaat. Ongelukkig het van hierdie reservate nie voltydse bestuurders nie, wat tot gevolg het dat die veld nie dikwels genoeg brand nie en dit skep ‘n bedreiging in die toename van indringerspesies.
  • Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW) het in 2016 opnames van drie belangrike stukke renosterveld gemaak:  Op ‘n plaas by Riebeek-Wes, ‘n stuk munisipale grond by Malmesbury wat Klipkoppie genoem word en ‘n plaas op die Porseleinberg by Riebeek-Kasteel. Tydens hierdie opname is ‘n nuwe bevolking van die bedreigde Marasmodes Spinosa gevind. Daar is tevore gedink hierdie spesie kom net by Elandsberg voor. Nog ‘n interessante vonds was die Polhillia ignota, ‘m struik van die peulplantfamilie wat 80 jaar gelede versamel is. Later is dit as uitgestorwe geklassifiser, maar in September 2017 het CREW ‘n klein groepie van 13 plante in ‘n stukkie Swartland Skalierenosterveld naby Eendekuil gevind.  Hierdie belangrike vondse gee ‘n aanduiding waarom dit so belangrik is om die oorblywende stukkies renosterveld te bewaar en versigtig te bestuur.
  • “Grondeienaars behoort nie bewaring in renosterveld in landbouproduksieterme te beoordeel nie”, sê mnr Mike Gregor, Besturende Direkteur van die plaas Elandsberg naby Wellington.  “Vir ons is die voordele ten opsigte van waterbewaring. Die Elandsberg is deel van die spons van die Bergrivierstelsel.”  Die grootste voordeel van die bewaring van die renosterveld is die moontlikhede vir landboutoerisme en die geleentheid om ander soorte van uitwissing te red deur hulle habitat te bewaar.

Hierdie belangrike navorsing wys net weer vir ons hoe belangrik dit is om met ‘n bewaringsgesindheid te boer en sensitief te wees vir die habitat. On sis dit aan ons nageslag verskuldig.

 

Mnr Stephen Cousins is in Junie tragies in ‘n motorongeluk oorlede voordat die artikel geplaas is.  

Hier staan hy by vuur in een van die stukkies renosterveld wat hy bestudeer het. 

Vuur is een van die belangrikste restourasiestrategieë in renosterveld.

  

 

 

 

 

 

               

Nadat van die renosterveldfragmente in die Swartland gebrand is, het skaars en bedreigde plantsoorte opgekom en geblom.  Die plante is die bedreigde Aristea lugens (1), wat net in die Swartland renosterveld gevind word en net na vuur blom.  Foto 2 is ‘n Lachenalia-soort (viooltjie) en foto 3 is ‘n Babiana (bobbejaantjie).