News/Nuus

Nasie in Gesprek

Van Plaashek tot Tafel

Soos alles in die lewe het die beeld van landbou ook twee kante, “dit wat die sektor van hulle self dink en dit wat die persepsie daar buite is” - so het Jeremy Maggs, aanbieder van Nasie in Gesprek, sy saadjie geplant. Nasie in Gesprek is ’n TV program wat al vir 4 jaar uitgesaai word en dien as 'n "stem" vir die produsent en sy vennote. Die program gaan van krag tot krag om wêreldwyd ’n positiewe impak te maak op die beeld van Suid Afrikaanse Landbou sektor.

Brand Republic, die vervaardigers van die “Nasie in Gesprek / Nation in Conversation” reeks, is tans besig met die verfilming van die volgende reeks wat Januarie 2017 op die lug gaan wees. Die reeks sluit 13 episodes in, elk op 3 kanale: kykNET, Business Day TV en Soweto TV. 

Dutoit het die geleentheid gehad om deel te wees van ’n gesprek wat beoog om die verbruiker en die produsent nader aan mekaar te bring met ’n oorhoofse tema wat fokus op moderne, volhoubare en verantwoordelike produksie.

Brand Republic se gedrewe kameraspan het Donderdagmidadg 10 November Paardekloof besoek waar hul in Afrikaans en Engels onderhoude gevoer het met Pieter du Toit en Bekker Wessels. Vir die wat voorheen die kans gehad het om Paardekloof te besoek, sal verseker weet dat die plaas ’n prentjiemooi agtergrond geskep het. 

Pieter du Toit het sy kant eerste gestel en het die sessie begin deur die rol van die verbruiker te identifiseer om konteks op die vrugtebedryf te gee en om die waardeketting uit te lig. Daarop het hy ook sy insette gelewer op die werkerskorps, wat ’n groot geheel vorm van Dutoit, asook die rol wat goeie bestuur speel in die volhoubaarheid van die gemeenskap.

Bekker het op volhoubare en verantwoordelike produksie gefokus. Aan die een kant is daar die verbruiker se voorkeur tot minder chemikalieë, maar aan die ander kant is mooi vrugte ’n vereiste. Die rol en belangrikheid van bye was ook in sy sessie bespreek.

 
 

Sonder twyfel het albei onderhoude waarde toegevoeg tot die positiewe ontwikkeling van die beeld van Suid Afrikaanse Landbou. Alhoewel die fokus daar buite op talle negatiewe dinge in landbou is, bly dit ons verantwoordelikheid, binne en buite die sektor, om eienaarskap van die beeld van landbou te neem.

Dit is duidelik dat dit nie maklik gaan wees om die persepsie van die sektor te verander nie, maar passie, iets wat almal by Dutoit in oorvloed het, kan die gesprek vorentoe neem. Almal kan help om ’n positiewe beeld te skep en goeie stories te vertel. 'n Verenigde en gesamentlike poging is nodig om verandering aan te moedig. So, wees elke dag pro-aktief en skaaf elke dag aan die beeld van landbou. Word deel van die gesprek!
 
Hou die Dutoit Agri webblad en Facebook blad dop vir die uitsaaitye van hierdie episode. Volg die gesprek ook op Twitter en Facebook @nationconverse.

Klik op die volgende skakel om na vorige episodes te kyk: http://www.nasieingesprek.co.za/episodes

www.dutoitagri.co.za