News/Nuus

Steenvrugseisoen

Op 10 Oktober 2019 het die nuwe steenvrugseisoen met die Flavela nektarien op Swartdam afgeskop. Die seisoen is sewe dae vroeër as die vorige jaar. 

Die vroeë nektarien kultivars arriveer goed by die oorsesemarkte wat voordelig is vir die seisoen vorentoe. Daar word vanjaar gefokus op optimale plukrypheid met die oog om meer uniforme vrugrypheid te verkry. Optimale plukrypheid is ‘n groot uitdaging met die variërende klimaattoestande wat vanjaar ondervind word. Vrugrypheid word daagliks tussen die Landgoedere en die Tegniese span gemonitor om optimale vrugkwaliteit vir kliënte te verseker. 

Die suikervlakke van die vroeë nektariens was nie so hoog soos beplan nie, alhoewel die eetkwaliteit steeds van hoë gehalte is. Tot op hede is daar drie kultivars wat veral uitgestaan het, naamlik Royal Ruby (Swartdam), Honey May (Excelsior) en Spring Princess (Excelsior). Die perske, Spring Princess van Excelsior, het vanjaar ‘n besonderse mooi rooiblos getoon. 

Crispy is tans besig met 'n goeie nekarienoes, wat ons opgewonde maak vir die vrugte wat nog oppad is vanaf die Kouebokkeveld Landgoedere. Die afgelope twee weke se hoë temperature bring sy uitdagings, maar het ook sy positiewe om sodoende vruggroei en akkumulering van suikers te bevorder. Daar word verwag dat die later seisoen nektarien kultivars, vanaf week 51, baie goeie vruggrootte en suikervlakke gaan bevat. 

In die Wes-Kaap is die produksie van pruime vanjaar taamlik minder. Dit word toegeskryf aan ongunstige klimaatstoestande (hoë temperature en lae relatiewe humiditeit) gedurende die bestuiwingsperiode. Alhoewel, met laer produksie word groter vrugte en beter suikervlakke verkry. 

In teenstelling met die Wes-Kaap, lyk die pruimproduksie in die Langkloof vanjaar belowend. Die eerste pruime word in week 50 verwag. Swartdam het reeds hul seisoen met Alpine op 26 November afgesluit, maar daar is ‘n groot volume nektariens nog oppad tot einde Maart. Die Landgoedere, tesame met die Tegniese span, werk hard en doen alles in hulle vermoë om die beste moontlike kwaliteit vrugte aan almal te voorsien. 

  

Dutoit Agri Technical Team: Stone Fruit
Tel: +27 (0)23 312 1071